
04 Sep Die waarde van jou huis
Daar is dikwels verwarring wanneer dit by die dekkings-bedrag van ‘n huis kom. Inus Marais, direkteur van Snyman & van der Vyver, gee meer perspektief en noop kliente om seker te maak dat hul huis korrek verseker is.
Vier verskillende waardes word onderskei:
- Die Markwaarde
Die markwaarde is die verkoopprys van ‘n huis. Hierdie waarde sluit die struktuur, die waarde van die erf en ander intrinsieke waardes soos ligging, uitsig, nabyheid aan skole en winkels ensovoorts in. Die markwaarde kan dus heelwat hoër wees as die koste om die struktuur te herbou.
- Die Munisipale waarde
Die munisipaliteit ken ‘n waarde toe waarteen dienslewering en eiendomsbelasting bereken word. Hoewel die munisipale waarde gelyk aan markwaarde behoort te wees, is dit gewoonlik effens laer omdat waardasies gewoonlik ‘n paar jaar agter is.
- Die Bank se waarde
Dié waarde word gewoonlik direk gekoppel aan die verkoopprys tesame met die kostes wat aangegaan word indien die huis verkoop moet word as gevolg van wanbetaling. Die bank se waarde kan ook verwarrend wees omdat hul terugbetalings van die verband, sowel as finansieringskostes, byreken.
- Die Versekeringswaarde
Hierdie is die enigste relevante aspek wat verseker dat die polis voldoende dekking vir u eiendom bied. Die versekeringswaarde word direk gekoppel aan die boukoste per vierkante meter om die huidige gebou met ‘n nuwe, soortgelyke gebou te vervang. Die struktuur sluit alle vaste toebehore in wat in of aan jou huis vasgeheg is. Daarby moet alle ander verbeterings ook getel word, bv. opritte, mure, heinings, swembaddens, ens.
Die boukoste van ‘n huis word deur die keuse van materiaal, toebehore en afronding beïnvloed. Gevolglik sal duurder afwerkings soos ingevoerde teëls, badkamertoebehore en ander luukshede dié koste opstoot.
“Indien jou dekking gegrond is op die oorspronklike boukoste van ‘n paar jaar gelede, is die kans goed dat jou huis onderverseker is. Sou jy die waarde van jou eiendom deur aanbouings of die opgradering van toebehore verbeter het, is dit raadsaam om jou versekeringswaarde te hersien. Neem asseblief die huidige boukoste van jou huis in ag om seker te maak dat jy korrek gedek is, want onder-versekering lei tot penalisasies as u sou eis ná skade,” waarsku Inus.
Die onus rus op die kliënt om te verseker dat sy huis of struktuur voldoende dekking geniet. Kontak ons gerus vir meer besonderhede rakende professionele waardeerders wat jou in hierdie verband kan bystaan.