
04 Sep Afstandbeheer-slenter
Deel van ons lewe
Voorvalle van afstandbeheer-slenter het toegeneem en dit het ‘n groot impak op versekeringseise. Die sigbare afwesigheid van geforseerde toegang tot ‘n motor waaruit inhoud verwyder is, is dikwels ‘n geskilpunt wanneer ‘n eis ingedien word.
Hugo van Zyl, uitvoerende hoof van die Buro vir Versekeringsmisdaad, sê dat misdade soos diefstal uit ‘n voertuig, diefstal van ‘n voertuig, die kaping van voertuie/vragmotors met ‘n vrag en huis- of besigheidsinbrake almal ook gepleeg word deur die afstandbeheer-slenter.
Santam se standpunt oor afstandbeheer-slenter
Santam onderneem om elke eis van ‘n beweerde afstandbeheer-slenter in sy eie hoedanigheid te ondersoek. Vir ‘n voertuigdiefstal-eis om uit te betaal benodig die versekeraar bewyse dat die voertuig gesluit was. Santam sal elke afstandbeheer-slenter insident op sy eie meriete beoordeel en die eise daarvolgens hanteer.
Die feit dat daar nie by die voertuig ingebreek is nie (of dat daar geen fisiese of sigbare skade aan die voertuig is nie), dien nie as genoegsame bewys dat dit nooit gesluit was nie. Wanneer ‘n polishouer verklaar dat die voertuig gesluit was tydens die voorval, berus die onus op die versekeraar om te bewys dat die voertuig nie gesluit was nie. Eise sal alleenlik afgekeur word waar die versekeraar bewyse kan lewer dat die voertuig nie gesluit was nie.
Handige wenke deur Santam
- Kontrolleer dat u voertuig gesluit is deur ‘n deur te toets nadat die afstandbeheertoestel gedruk is.
- Toets alle immobiliseer- en sekuriteitstoestelle gereeld.
- Maak seker dat persoonlike items soos sonbrille, selfone en selfs kruideniersware in die kattebak toegesluit word.
- Neem, indien moontlik, altyd duur elektroniese toestelle saam wanneer u die voertuig verlaat.
- Parkeer altyd op ‘n veilige plek waar ander voertuie en sekuriteitswagte sigbaar is.
- Rapporteer enige verdagte persone aan sekuriteit of skuif u voertuig na ‘n veiliger parkeerarea.
Hugo verduidelik dat talle groot winkelsentrums, sowel as vulstasies op Suid-Afrikaanse nasionale paaie, sisteme geïnstalleer het om die duisende voorvalle van die afstandbeheer-slenter te probeer voorkom.
“Ten spyte van maatreëls soos hierdie, bly die verskynsel alledaags en is waaksaamheid te alle tye die goue reël,” waarsku Hugo.
*Uittreksels van hierdie inhoud is verkry uit Santam se Integrity magazine.